Ouditbestuurder bekoor saam met koor in Europa

OUDITBESTUURDER BEKOOR SAAM MET KOOR IN EUROPA – Heinrich Swanepoel Heinrich Swanepoel, een van ons ouditbestuurders in Pretoria en ook die voorsitter van die Conwonnité koor het gedurende Junie/Julie 2013 saam met die koor gereis na Europa. Die koor, onder leiding van Albert Morland, het besoek afgelê in België, Frankryk, Duitsland en Oostenryk. Tydens ons besoek in België was ons genooi na die Flaamse Parliament, waar ons as ambassadeurs vir Suid-Afrika opgetree het, sowel as die Burgemeester van Aalst ontmoet het. Die koor was ook bevoorreg genoeg om op Aalst TV te verskyn, op spesiale versoek van die Burgemeester, waartydens ‘n spesiale insetsel gemaak is van ons konsert saam met die 7 manne van Incensumkoor in Aalst. Die konsert het ingesluit ‘n “wandelbuffet”, waar eg Belgiesedisse bedien is met die invoer van ons eie boerewors en biltong. Mrs Balls was ook daar om klas te gee aan die Kaapsebobotie. Die koor is bedank vir hulle spesiale bydrae, bekoring en die onontbeerlike Afrikagees wat met soveel oorgawe gedeel is. Ons reis verder na Parys waar onder andere ons optree in Disneyworld se kunsteteater en toeskouers behoorlik die musiek geniet saam met al die sprokies karakters uniek tot die Disneymilieu. Dit reën kat-en-honde met ons aankoms in Baden Baden, Duitsland, maar dit het nie ons gees gedemp nie. Die Swartwoud lê en wik. ‘n Stap deur die woud is ‘n moet, al is jy ten tye kniediep in die modder. Die aardige oranje slakke te vinde in hierdie woud is genoeg om die grilmosters weg te jaag. Voorwaarts na Salzburg, Oostenryk. Die rede vir die toer. Salzburg bekend vir sy ligging teen die voet van die Alpe en seker meer bekend as die “Sound of Music”-stad (alhoewel 80% van die film in Hollywood se produksiehuise vervaardig is). Die koor was gekies uit meer as 70 kore van reg oor die wêreld om Suid-Afrika te verteenwoordig tydens die jaarlikse Cantus Salisburgensis Somerfees in Salzburg. Die fees het ingesluit optredes in die bekende Mozarteum-saal en die Dom-Katedraal op die hoofplein van Salzburg, saam met ‘n strykorkeste onderleiding van Prof Janos Czifra. Werke van Mozart, Beethoven en Händel was aan die orde van die dag. Ligter Afrika werke is ook gesing, wat dié Europeërs behoorlik op hulle voete gehad het juigend vir nog. ‘n Staande toejuigend is na die afloop van die fees aan die koor gegee. Wat ‘n voorreg! Terug by die huis is die koor hard aan die werk aan ons volgende produksie by Aardklop in die Sanlam Ouditorium op 29 September 2013, saam met befaamde musici wat insluit die orrelis Ockie Vermeulen en soprane Rina Hugo en Hanli Stapela.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.